Geskenke

Geskenke

  • 4 Dec, 2014
  • Wynand Van Niekerk
  • 0 Comments
  • geskenke, Kersfees,

Toe ek klein was, was kersfees die grootste tyd van die jaar.

Dit was lekker lank skoolvakansie. Ons huis het meer kleur as gewoonlik. Mense het gereeld kom kuier en ek het presente gekry. Ons kon nooit wag tot Kersoggend nie, so Oukersaand was die groot presente geleentheid. Party maal kon ons my ma se arm draai en het ons sommer al op die oggend van die 24ste die presente ingevaar. Ek onthou die opwinding as ek speelgoed gekry het en die uiterste teleurstelling as my toegedraaide verrassings klere is.

Soos mens ouer word, begin jy ook in ’n ander manier in hierdie ritueel deelneem. Ons kan self begin geskenke uitdeel. Die trane in my sussie se oë sal lank by my bly toe sy ’n fotoalbum oopmaak wat ek en my boetie vir haar gegee het.

Deesdae werk dit anders. As getroude man het ek nou meer as een familie. My ouers is ook nie meer saam nie, so my kant van die familie maak dat ek nou drie “groepe” het waarvoor ons geskenke moet kry. Dit raak net onbekostigbaar en daarom werk ons families volgens ’n ander plan. Elkeen koop net een persent vir een persoon. So kry elkeen darem iets en elkeen hoef net een ding te koop. Ek wonder of die koop so groot probleem is so die moeite om dit te soek.

Ek wonder lank vandag oor watter present ek sal aanskaf en dit laat my van vooraf wonder oor die gebruik. Baie van ons voel sterk daaroor dat Kerstyd nie oor die presente gaan nie, maar doen dit nie dalk nie?

Ons herdenk die grootste geskenk wat ons ontvang het. Christus. Ons vier sy geboorte en ons doen moeite om by geliefdes te wees. Ons gee vir hulle iets onder die boom om ons liefde te wys, maar is dit wat om die boom, tussen ons gebeur, nie die ware geskenk aan mekaar nie?

Dit wat daar om die boom gebeur kan so mooi wees, maar ons weet ook dat gesinne nie net om daai boom sit nie. Op ander plekke kan ons so liefdeloos optree. Miskien is die beste geskenk wat ek hierdie Kerstyd gee, is om die liefde wat ons om die boom ervaar, die res van die jaar uit te leef.

Share This Story

Categories

Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *