Omgewingsondag

Omgewingsondag

  • 4 Jun, 2015
  • Wynand Van Niekerk
  • 0 Comments

Sondag 7 Junie is Omgewingsondag — ‘n dag wat die kerk afsonder om ons daaraan te herinner dat ons deel van iets groters is en dat daardie “iets groters” vir die Here saak maak en vir ons van lewensbelang is.   Iets wat ‘n geskiedkundige, Lynn White, in 1967 reeds gesê het, dawer nou nog in die ore van Christene. Hy het gesê dat die Christelike Bybel en die Christelike tradisie hom daarvan oortuig het dat die Christelike geloof die mees mens-gesentreerde (antroposentiese) geloof op aarde is en dat dit verklaar hoekom Christene oorwegend ongeëerg is oor die omgewing. Dis ‘n kwaai beskuldiging. Dit veronderstel dat Christene die omgewing/wêreld bloot sien as die dekor wat as agtergrond dien vir die mensedrama waarby God betrokke is.   Die aanklag dat die Christelike geloof baie mens-gefokus is, word dikwels só gemotiveer:

  • Julle Bybel verkondig dat die mens oor die aarde en oor diere moet heers (met verwysing na veral Genesis 1:16-28).
  • Julle verkondig dat die Here eintlik net in julle siele geïnteresseerd is, dat gelowiges bestem is vir die hemel, en dat die aarde maar net ‘n tydelike tentwoning is
  • Julle leer ook dat hierdie aarde tot niet moet gaan voordat die tyd van God se finale heerskappy kan aanbreek.Wie sal nou oor die aarde besorg wees as dié oortuigings jou lewe rig? Dit is die vraag wat Lynn White vir ons vra. Ons het hier met ‘n dodelike kombinasie te doen: Heers oor die aarde, plus streef na die hemelse in plaas van die aardse. Baie Christene se diepste strewes het glad nie in hulle pad gestaan toe hulle die industriële era gemaklik omhels het nie. Dit verklaar waarom so baie Christene geen erg het aan omgewingsvraagstukke nie en prakties glo dat die omgewing, bloot die dekor is vir die mensedrama.

Dis ‘n geweldige aanklag. En die vinger wys in ons rigting. Wat maak ons nou? Ek nooi julle om saam met my twee dele uit die Rut-verhaal te lees en dan weer die vraag te vra: Is die omgewing bloot die dekor vir die mensedrama? Soos wat verhale gewoonlik doen, kan ons hoop dat dié verhaal uit die verre Bybelse tye vir ons wys hoe ons eie harte klop. Trek die Bybel nader en dblaai na die verhaal van Rut. Lees die boek rustig deur. Rut Sommer met die intrapslag vertel die Rut-verhaal van ‘n verskriklike krisis wat die landstreek Juda getref het en hoe dit ‘n spesifieke familie raak. Dit is so droog in Juda dat mense krepeer van die honger. Dit gaan so erg dat Elimeleg en Naomi se familie uit desperaatheid wegtrek na ‘n vreemde land, net om aan die lewe te bly. Heel ironies is die plek waarvandaan hulle wegtrek Betlehem, wat “Huis van Brood” beteken. Naomi, Elimeleg en die twee seuns, Maglon en Kiljon vat die pad omdat die “Huis van Brood” nie meer brood kan voorsien nie.   In ons tyd probeer golf op golf vlugtelinge vlugtelinge elders ‘n heenkome vind omdat hulle nie meer liggaam en siel aanmekaar kan hou by die plek wat tot dusver hulle tuiste was nie. Dink maar aan buitelanders wat Suid-Afrika toe stroom en aan die honderde mense wat die afgelope tyd op see tussen Afrika en Europa in bootjies omgekom het. Dit is nie net Naomi wat op soek na ‘n heenkome haar man en twee seuns verloor het nie.   Het dit jou ook getref dat net mans in die Rut-verhaal doodgaan? Elimeleg, Maglon en Kiljon sterf, nie Naomi, Rut en Orpa nie. Die mans se name dra op sigself ‘n boodskap. Die twee seuns se name onderstreep die vernietigende gevolge van hierdie natuurramp: Maglon beteken “Siek” of “Swak” en Kiljon beteken “Gedaan” of “Dood”. Elimeleg se naam bevat egter ‘n stuk ironie. Dit beteken “My God is Koning”. Jou verlies voel net soveel erger en vernederend as jy op ‘n vreemde plek vir mense moet sê “My God is Koning” is dood.   In die destydse samelewing was mans die spil waarom ‘n familie gedraai het. Die sekuriteit van ‘n familie en van ‘n samelewing het van mans afgehang — altans so het destyds se man-geörienteerde kultuur mense laat dink. As ‘n vrou se man en haar seuns dood is, was dit in die oë van die samelewing so goed of sy was ook dood. Die verhaal onderstreep dié werklikheid in 1:5: “…sy het alleen agtergebly, sonder haar seuns en sonder haar man.” Die samelewing het sekuriteit, beheer en eiendomsreg rondom mans gebou. Dit is seker ook waarom Naomi in 1:9 in een asem vir haar twee weduwee-skoondogters ‘n goeie man en ‘n heenkome toewens.   Wanneer die mans in ‘n familie iets oorgekom het, was die vroue ook afgesny van die stukkie grond waarvan almal destyds afhanklik was. Die grond waarvan hulle geleef het, sou in vreemde hande beland. Vir vroue was dit soos ‘n doodsvonnis. Daarom het die mense wel planne gemaak om weduwees en weeskinders te help. ‘n Manlike lid van die oorlede man se familie het onder ‘n verpligting gestaan om met die weduwee te trou (die leviraatshuwelik) in die hoop dat ‘n seun uit dié huwelik gebore sal word, sodat die familiegrond nie in vreemde hande beland nie. Daar was ook armereg wat behels het dat haweloses agter die snyers op die oesland korreltjies graan wat oorgebly het, kon optel. Albei dié gebruike word ingespan in die res van die Rut-verhaal.   Die plek in Moab waar hierdie familie gewoon het, het in die verhaal nie eens ‘n naam nie. Dit was bloot “die plek waar hulle gebly het” (1:7). Hierdie familie se sekuriteit en identiteit het gedreig om totaal verlore te gaan. Hulle lewens het teen wil en dank verweef geraak met dié van die Moabiete. Elimeleg en Naomi se twee seuns het met Maobitiese meisies getrou. Soos wat die gebruik was, het hierdie meisies deel geword van die huishouding van Elimeleg en Naomi.   Watter gevolge het die omgewingskrisis gehad, behalwe dat mense nie kos gehad het om te eet nie? Onthou, die mans het doodgegaan. Die sekuriteitsisteem van die samelewing se boom het uitgeval. Mense se beheersisteme kon die wolf nie van die deur af weghou nie. Mense is reddeloos gelaat. Iets groters as wat mense kon beheer het die lot van hierdie familie bepaal. Kan ‘n mens in die lig hiervan sê dat Elimeleg en Naomi-hulle se omgewing bloot die dekor was vir die opwindende mensedrama wat in Juda en Moab afgespeel het? Beswaarlik. Die omgewing is nie ‘n portret waarna mense kan kyk wanneer hulle so voel, of dit wegbêre wanneer hulle klaar gekyk het nie. Nee, ons is deel van die portret. ‘n Banier by ‘n onlangse boomplantdag het my opgeval. Dit sê “You are nature.”   Ons kan maklik sê dat al die vooruitgang wat sedert die Bybelse tye plaasgevind het ons in ‘n heelwat beter posisie as destyds se kleinboere plaas. Mense het intussen wel wonderlike tegnologie ontwikkel en uiters gesofistikeerde ekonomiese en ander samelewingsisteme uitgedink. Ons het ‘n byna virtuele wêreld geskep wat ons van die wêreld daar buite gespeen het. Dié virtuele wêreld gee ons ‘n gevoel van beheer. Daarbinne kan ons so te sê alles manipuleer en iets anders probeer as ‘n poging misluk of as ons uitgekuier raak daarmee. En tog waarsku wetenskaplikes ons dat juis mense se fantastiese vermoëns dalk die dood in die pot het. Ons het vergeet: “You are nature.”   Die Bybel verras ons wanneer dit praat oor die noue band tussen mens en omgewing en dat die omgewing reageer op hoe ons leef, en dat dit nooit los staan van ons verhouding met die Here nie. Daar word gesê:

  • dat die weivelde verdor en mense van dors versmag saam met die wilde diere, voëls en visse, omdat mense se trou, liefde, toewyding aan die wil van God en geregtigheid in die land ontbreek (Hos 4:1-3; vgl. Am 1:2)
  • dat die dwaasheid van die volk sal meebring dat die land onbewoonbaar word, dat mense en selfs voëls sal verdwyn, dat vrugbare grond woestyn sal word en dat die aarde daaroor sal treur (Jer 4:22-28)
  • dat die Here die aarde gaan verwoes, vernietig, sy voorkoms gaan verander en sy inwoners gaan verstrooi, omdat die inwoners die aarde verontreinig het deur die Here se voorskrifte te minag (Jes 24:1-13).
  • selfs dat die aarde mense uitbraak wanneer hulle nie meer omgee hoe hulle leef nie en so die land verontreinig (Lev 18:25).

Jesaja 24:2 sê dat die omgewing nie kieskeurig is wanneer die Here die aarde se voorkoms verander nie: Dieselfde lot gaan almal tref: priester en volk, slaaf en besitter, slavin en eienares, koper en verkoper, uitlener en lener, skuldeiser en skuldenaar.   Dit is presies wat in die Rut-verhaal met die mense van Betlehem gebeur het.   Maar toe kom daar in die Rut-verhaal uitkoms, al was die vroue nog reddeloos. Die uitkoms is nie bepaal deur iets wat mense reggekry het nie. Hulle het trouens geen aandeel gehad in die uitkoms waarvan hoofstuk 1:6 praat nie. Daar staan: “Toe sy [Naomi] verneem het dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ‘n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan.” Dit het begin reën, sodat die mense weer kon plant. Daar was weer ‘n oes op die land. Die Here het vir die mense uitkoms gebring deur weer lewe te gee aan die aardgemeenskap wat plant, dier en mens insluit. Mense moes wag vir die Here se hand in die natuur.   Daar was weer kos, maar wat van ‘n nageslag, sodat Elimeleg se grond in die familie kon bly sodat dit vir Naomi en haar skoondogter ‘n heenkome kon bied? Twee vroue, Naomi en Rut, het ‘n reeks groot risiko’s geneem. Hulle het na tien jaar in Moab sonder enige sekerhede die terugtog Betlehem toe aangepak. Die kans was skraal dat hulle daar as weduwees ‘n heenkome sou vind. Daar was egter ook twee mense wat nie vir so ‘n onseker bestaan kans gesien het nie. In hoofstuk 1 verkies een van Naomi se skoondogters, Orpa, om na die “sekerhede” van haar Moabitiese ouerhuis terug te keer en in hoofstuk 4 wil die losser hom nie inlaat by Naomi se belange nie, veral omdat dit sou behels dat hy moet trou met die jong Moabitiese Rut. Hy het gereken dat sy eie eindom in gevaar sou kom indien hy ‘n seuntjie by haar verwek. ‘n Mens sou kon sê dat Orpa en die losser die versigtige keuse uitgeoefen het. Dit was egter die pad van groter onsekerheid wat Naomi, Rut en tot ‘n mate ook Boas geneem het (veral in hoofstukke 2 en 3) wat vir die familie ‘n heenkome help werklikheid maak het en uiteindelik ‘n voorsaat vir koning Dawid die lig sou laat sien. Wat vir ‘n enkele familie ‘n uitkoms was, het later rimpelings gehad vir ‘n hele nasie. Die onsekerheid oor die uitkoms van Naomi en Rut se optrede kom mooi onder woorde waar Naomi in 3:18 vir Rut sê: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter.”   Toe die twee vroue in Betlehem aangekom het, was dit net mooi die begin van die garsoes (1:22). In teenstelling met koring, is gars gassosieer met slegte jare en ‘n gebrek aan status. Dit was op daardie tydstip presies die situasie van die twee vroue. Dit is veelseggend dat Rut toegelaat was om van die begin van die garsoes tot aan die einde van die koringoes op Boas se land are op te tel (2:23). Dit simboliseer die herstel van status wat Naomi en Rut ontvang het na hulle terugkeer. Mens en natuur vier hierdie uitkoms saam-saam.   Die einde van die verhaal (wat ons ook gelees het) vertel van ‘n ongelooflike wending wat gekom het. Ons hoor van ‘n weduwee wat weer trou en geboorte gee aan ‘n baba-seuntjie. Ons lees van ‘n vrolike vrou tussen haar ou vriendinne. Ons hoor dat die vroue die Here lof toesing vir die wending in die lewe van Naomi. Die buurvroue het die seuntjie ‘n naam gegee: Obed. Dit is weer eens ‘n betekenisvolle naam. “Obed” beteken “om te dien”, “om te werk”, “om te bewerk”. Dit is juis die woord wat in Genesis 2:15 gebruik word waar die Here God die mens in die tuin laat woon “om dit te bewerk en op te pas.”   Dit is dalk hoe ons ons verhouding tot ons omgewing moet sien. Ons is hier geplaas om dit dienend te bewerk en op te pas. Dié houding pas by iemand wat besef dat die omgewing iets groters is as onsself en dat dit ons insluit. Daarby maak die omgewing, die hele aardgemeenskap, vir God ook saak. Sê Johannes 3:16 nie juis dat God die kosmos so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het nie? Dit sou mos voorbarig wees om te reken dat die omgewing, ons tuiste, maar net die dekor is vir die dramatjies wat ons lewens optower.

Share This Story

Categories

Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *